Veerkragtige SPF is reg vir groei

Posted on January 9th, 2019 |

SPF se stewige strategie, sterk kernbesigheid en opwindende nuwe inisiatiewe sal die besigheid op koers hou om te groei, sê Jurie Strydom, Uitvoerende Hoof.

Hoe het SPF in 2018 gevaar?

SPF was baie lewenskragtig in ’n makro-ekonomiese omgewing wat uiteindelik baie uitdagender was as wat ons verwag het. Hoewel ons 2018 vol vertroue begin het, het die bedryf ekonomies sowel as in die mark die wind van voor gekry. Belanghebbendes in die regering, besigheid en gemeenskap het saam baie vermag om die land in die regte rigting te stuur, maar baie werk lê nog voor.

Hoewel die moeilike wêreld- en plaaslike ekonomie kommer en onsekerheid onder kliënte gewek het, het SPF vasberadenheid gewys en in die omstandighede sterk presteer. Die belangrikste is dat ons hard gewerk het om die ondersteuning, insig en gerusstelling aan ons kliënte te verskaf waarop hulle staatmaak om deur hierdie tye te kom.

Ons besighede het goed gevaar – dit geld vir ons kernbesigheid én sommige nuwe inisiatiewe, veral ons BrightRock-verkryging en Capitec-vennootskap, wat goeie besigheidsvloeie begin toon het. MiWayLife het ook deur ’n beleggingskurwe gegaan en presteer volgens doelwitte.

Glacier is steeds een van die voorste platforms in die welvarende mark en ons is nou ook nommer een in die ­risiko-onderskrywingsmark wat versekerde bedrag betref (BrightRock ingesluit). Sanlam Sky het die afgelope jaar uitstekend in die intreevlakmark gegroei en sal met die Capitec-vennootskap ’n verdere hupstoot kry.

Waarop gaan SPF in 2019 fokus?

Ons wil graag alle areas van ons besigheid uitbrei en hoop uiteraard op ’n meer ondersteunende ekonomie en markte wat ons kliënte sal bevoordeel.

Al ons besighede het belangrike strategiese temas en inisiatiewe vir die jaar met hope aktiwiteite – 2019 gaan waarskynlik selfs besiger as 2018 wees!

Ons sien uit na die groot voordele wat die implementering van die nuwe Distribusie-struktuur op 1 Januarie vir die besigheid sal inhou en die wesenlike mededingende voordeel wat dit ons in die mark gaan gee.

Wat ons nuwe inisiatiewe betref, sal ons voortgaan met die volgende stappe in ons strategie. Opwindende dinge om na uit te sien is onder meer die beskikbaarheid van BrightRock-produkte wat Sanlam-adviseurs gaan aanbied, die bekendstelling van ons eerste doelwit-gebaseerde spaaroplossing, die amptelike bekendstelling van African Rainbow Life en die voortgesette groei van ons Capitec-vennootskap.

In die digitale ruimte is daar talle nuwe ontwikkelings, waar­onder verbeterings aan die Glacier Investment Hub en die ­verdere ontwikkeling van Indie se digitale lewens­versekerings­platform – ’n markleier. Ons robotika-proses is ook goed op koers wat die produktiwiteit van personeel sal bevorder.

Verder is ons opgewonde oor die Plug and Play-vennootskap wat ons onlangs bekend gestel het. Dit sal ons help om saam te span met van die wêreld se opwindendste beginbesighede en ’n paar bewyse van konsep skep wat ons in ons besigheid kan toepas.

Is daar spesifieke teikens en verwagtinge?

In moeilike markomstandighede moet ’n mens markaandeel wen om te groei, so ons sal in elk van ons besigheidsegmente sterk moet meeding. Ons moet ook daarop gefokus bly om hoëgehalte-uitkomste te verseker vir die nuwe dinge wat ons doen.

Wat’s die grootste uitdagings?

Die makro-omgewing gaan dalk uitdagend bly, maar puik

besighede kan in taai tye hul gehalte toon.

Waarna sien jy uit?

Ek sien daarna uit om net so veel pret as verlede jaar te hê! Ons het ’n wonderlike besigheid met toegewyde, knap mense. Ek glo ons is daarop ingestel om die regte dinge vir nou goed te doen terwyl ons onsself ook vir die toekoms posisioneer.

Watter boodskap het jy vir personeel en tussengangers?

Dankie aan ons personeel en tussengangers vir jul goeie gehalte van werk in ’n baie moeilike jaar. Ons het ons gehaltemaatstawwe, soos behoud en kliëntediens, ondanks moeilike omstandighede gehandhaaf en ons het aanhou goed presteer.

In tye soos dié maak ons kliënte op ons staat om bestendig en koersvas te bly, en steeds diens en advies van hoë gehalte te lewer. Ons kan dankbaar wees vir die geleentheid om hierdie eienskappe te toon en te bewys waarom ons kliënte besluit het om hul finansiële toekoms aan ons toe te vertrou. 

SPF se vyf strategiese temas

  • Produkleierskap – fokus daarop om ons produkte eenvoudig, waardevol en uitkomsgedrewe te hou
  • Kliënte-ervaring – om intuïtiewe kliëntereise te skep is uiters belangrik
  • Kanaalontwikkeling – die omnikanaal-transformasie is deurslaggewend omdat dit die kliënt sentraal plaas, terwyl die ontwikkeling van ons besigheids­distribusie-modelle ewe belangrik is
  • Bedryfsuitnemendheid – verbeter voortdurend en lewer waarde vir geld deur ons besighede
  • Talent en transformasie – streef daarna om die voorkeurwerkgewer te wees, en dryf diversiteit en dinamika voortdurend.