SBM saai vir ryk oes in 2019

Posted on January 9th, 2019 |

’n Reeks skakelingsgeleenthede wat SBM gaan fasiliteer, sal tussen-gangers vanjaar met besigheids-kliënte in verbinding bring.

Sanlam Besigheidsmark (SBM) beplan verskeie projekte om besigheid ’n hupstoot te gee.

’n Sleutelprojek is Fase 2 van die Besigheids­versekering-ouditprojek, met die fokus op verwaarloosde kliënte – dié sonder enige besigheids­aktiwiteit met Sanlam die afgelope drie jaar. Tussengangers sal hulle besoek om seker te maak die waarde van hul risikodekking stem ooreen met die besigheid se waarde. SBM sal ook sleutelpersoon­versekering en gebeurlikheids­aanspreeklikheidsdekking as deel van die oudit insluit.

Fase 1 van die projek, wat in 2018 bekend gestel is, het daarop gefokus om seker te maak alle koop-en-verkoopskontrakte sluit aan by die besigheid se akte van oprigting, wat die regte, pligte en verantwoordelikhede van aandeelhouers, direkteure en ­andere binne die maatskappy uitstippel.

Distribusie-projekte

Die vier grootste Distribusie-projekte vir die jaar is:

  • Besigheidsversekering-oudit (Fase 2)
  • Herbemiddeling van verweesde besighede en landbou­besighede
  • Ontwikkeling van ’n strategie vir opverkoop van besigheids­versekering vir kliënte wat net persoonlike­lyne-besigheid by Sanlam het
  • ’n Reeks artikels vir Sanlam Finansiële Adviseurs met die tema ‘Hoe om ’n winsgewende finansiële­beplanning-besigheid in die KMO-mark te skep’.

Finansiële beplanners bemagtig

In 2018 het SBM 10 seminare landwyd vir besigheids­eienaars aangebied met die onderwerp ‘Bou ’n besigheid wat jy kan verkoop’. Dis aangebied deur Harry Welby-Cooke, ’n entrepreneur, professionele spreker en ­mede-meesterlisensiehouer van ActionCOACH, die ­wêreld se grootste besigheidsafrigting-maatskappy.

‘Die terugvoer wat ons van tussen­gangers én besigheidseienaars ontvang het, was baie goed en ons beplan om dié seminare in 2019 voort te sit,’ sê Kobus Engelbrecht, Bemarkingshoof: Sanlam Besigheidsmark.

Die Sanlam Finansiële Fiksheidsverslae oor kliënt­besighede wat op die vorige seminare gedoen is, het gemiddeld 12 finansiëlebeplanning-verwante behoeftes per besigheids­eienaar aangedui.

‘Dis die perfekte geleent­heid vir tussengangers om met hul kliënte te gesels sodat verdere aksie kan plaasvind,’ sê hy.

Bemarkingsaktivering vir Distribusie

SBM se beplanning vir 2019 sluit streekbemarkings­ondersteuning in. ‘Ons het befondsing toegewys om plaaslike kliëntegeleenthede van finansiële beplanners met tot 50% te help borg, op ’n grondslag van eerste daar, eerste gehelp,’ sê Kobus.

Die jaarlikse Entrepreneur van die Jaar-kompetisie (eoy.co.za), geborg deur Sanlam en Business Partners, is ook vir 2019 bestem. Dié inisiatief, nou in sy 31ste jaar, bring hulde aan Suid‑Afrikaners wat ’n entrepreneuriese kultuur koester, broodnodige werk skep en ekonomiese ontwikkeling in die land bevorder.

‘Hierdie gesogte kompetisie skep die perfekte vertrekpunt vir tussengangers om met hul kliënte te skakel en hulle te motiveer om deel te neem.’