Saamwerk gaan Sky laat uitblink

Posted on January 9th, 2019 |

Om sy markaandeel te vergroot deur sy vermoëns uit te brei en met ander besighede in die Groep saam te werk, is Individuele Lewens Distribusie se doelwit vir 2019.

Individuele Lewens Distribusie in Sanlam Sky Solutions gaan steeds op groei­geleenthede fokus ná sy stewige prestasie in 2018 in moeilike handelstoestande.

‘Ons gaan verder diversifiseer, doeltreffendhede ontsluit en seker maak alle kanale kan aanpas en hulself posisioneer vir die talle regulatiewe veranderings wat voorlê,’ sê Gavin Downard, Hoofbestuurder: Individuele Lewens Distribusie en Bemarking.

‘Dit bly ons oorkoepelende strewe in die Sanlam Sky-subgroepering om die voorste versekeringsrolspeler in Suid‑Afrika se massa- en opkomende mark te word.

‘Ons kon in onlangse jare ons markposisie teenoor Old Mutual se Mass Foundation Cluster verbeter en is seker die finale 2018-resultate sal dit weer bevestig. Die Individuele Lewens-besigheid het ’n beduidende rol in dié groei in markaandeel gespeel, maar ons bly daartoe verbind om steeds bogemiddelde groeikoerse te behaal.

‘Om dit reg te kry versterk ons ons fokus op advies in ons kanale waar tussengangers persoonlike diens aan kliënte lewer, en ons versnel belegging in ons direkte en self­bestuurde distribusiekanale.’

Gavin sê in die huidige ekonomiese omgewing is die waarde van goeie advies en uitmuntende diens noodsaaklik. In ’n verkiesingsjaar voel kliënte ook dikwels onseker en wil hulle nie noodwendig enige langtermyn- finansiële verbintenis aangaan nie.

‘Die waarde van ’n betroubare adviseur se advies kan in sulke tye ’n reuseverskil maak. Ek moedig dus alle personeel en vennote aan om daarop te let om jul werk baie, baie goed te doen.

‘Wees ’n ware Welvaartmeester™ en doen jou deel sodat ons saam Sanlam Sky se missie kan vervul: “Om die lewe van die mense van Suid-Afrika te verander deur die voorste verskaffer van kliënt-geïnspireerde finansiële oplossings te wees wat finansiële welstand bou en beskerm”.’

Sleutelfokusareas

Voortgesette transformasie en belegging in tegnologie

‘Ons het aansienlike vordering in 2018 gemaak om funksionaliteit op ons SanTech-applikasie uit te brei, wat adviseurs in staat stel om ’n meer professionele ervaring aan hul kliënte te bied,’ sê Gavin.

‘Die volgende groot stap wat vir 2019 beoog word, is om ’n volledige digitale verkoopsproses in te stel. Adviseurs sal deur dié platform die insameling van inligting oor finansiële behoeftes, advies­rekord en aansoekproses aanlyn kan voltooi. Dit help ons om ondoeltreffendhede in ons papiergebaseerde verkoopsproses uit te skakel.’

Uitbreiding van ons adviseurs se vermoëns en produkreeks

Adviseurs en makelaars sal doeltreffender in die mark kan meeding deur ’n gedifferensieerde, adviesgedrewe ­waarde-aanbod, sê Gavin.

‘Dié proses behels ook die opskerping van ons ‘na die mark’-strategie wat sleutelrekeninge betref.’

Individuele Lewens Distribusie gaan in aansienlik meer hulpbronne belê om die volgende te bereik:

  • Verhoog ons uitgaande inbelsentrum­vermoë deur ons huidige kliëntbasis­kanaal vir opverkope te benut
  • Verbeter ons reeds hoogs suksesvolle aanlyn begrafnisoplossing, spesifiek om nuwe en jonger kliënte te lok
  • Verstewig en vergroot die nie-adviesdistribusie van begrafnis- en verwante versekering in vennootskap met Capitec
  • Open vroeg vanjaar ’n tweede Welvaartmeester™-tak in Sentraal-Johannesburg, gevolg deur nog ses takke deur die jaar. Die eerste een is verlede jaar in Tshwane geopen.

‘Soos ons ons multikanaal-distribusievoetspoor uitbrei, blyk dit duidelik dat ons ons kliënte in die opkomende middelmark doeltreffender deur dié veelvuldige raakpunte moet bedien,’ sê hy.

‘Ons sal voordeel trek uit die ver gevorderde werk wat in SPF Distribusie gedoen is om ’n omni-model te ondersteun, en ons sal seker maak ons neem die unieke behoeftes van kliënte in die opkomende mark in ag wanneer die nodige oplossings vir die Sanlam Sky-omgewing ontwerp word.’

Die besigheid gaan vanweë regulatiewe veranderings ’n paar wysigings aan die huidige produkreeks doen:

  • Verbeter die begrafnisproduk-aanbod

Brei ons produkreeks uit om ons markonderskeid te verbeter:

  • Ons gaan die toetsprojek met Glacier uitbrei wat einde 2018 begin het om voor- en ná-aftrede-oplossings aan hoofsaaklik staatswerknemers te bied. Die doel is om nuwe kliënte te lok en algemene kliëntebehoud vir SPF te verbeter soos kliënte deur lewens­fases beweeg
  • Ons sien baie uit na ’n doelgemaakte versekeringsoplossing om werknemers van klein en mediumgroot onder­nemings te teiken.