Positiewe groei is moontlik vir SA

Posted on January 9th, 2019 |

Suid-Afrikaners voel steeds die uitwerking van die resessie, maar die land gaan na verwagting in 2019 in sleutelareas soos gesondheid, die sterkte van sy instellings en besigheids-aktiwiteit verbeter.

Suid-Afrika se groeikoers het in die derde kwartaal van 2018 tot 2,2% versnel, van ’n negatiewe syfer in die eerste helfte van die jaar – ’n bemoedigende teken dat 2019 selfs meer positiewe groei kan bring.

Dis fantastiese nuus, sê Jean Dommisse, Hoof: Kliënt- en Markinsig by SPF Kliënte-ervaring – veral nadat Suid-Afrika vir die eerste twee kwartale tot die 67ste plek uit 140 lande in die ekonomiese rangorde geval het en vir die eerste keer sedert die internasionale finansiële krisis in ’n resessie verval het.

Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum se Globale Mededingendheidsverslag vir 2018 (WEF GCR) het inkrimpings in nege van die 38 kwartale sedert 2008 plaas­gevind, terwyl groei gesukkel het om deur die 2%-kerf te breek.

Die kredietgraderingsagentskappe het Suid-Afrika geprys vir sy sterk instellings, en die land vaar ook goed wat sosiale kapitaal en begrotingsdeursigtigheid betref, sê Jean.

Projeksies vir Suid-Afrika

‘Die regering het sy pogings verskerp om bestuur te verbeter en dialoog met die private sektor te versterk, maar die implementering van hervormings het die wind van voor gekry,’ sê Jean.

Suid-Afrika ervaar reeds die negatiewe uitwerking van die veranderende eksterne omgewing, ondanks sy ekonomiese lewens­kragtigheid. Teen dié agtergrond bly groei sloer en neem ekonomiese kwesbaarheid toe.

‘Dis ’n kritieke tydstip om vertraagde hervormings in te stel wat vertroue sal herstel, belegging sal lok, groei sal ondersteun en buffers sal herbou om ’n uitdagende omgewing te trotseer.’

Besigheidsentiment

Suid-Afrika se leidende aanwyser, die Aankoopbestuurdersindeks (PMI), dui op matige ekonomiese groei, solank ekono­miese beleid gepas bly en geen eksterne skokke voorkom nie.

Makro-siening

‘Die resultate het verskeie waarskuwings­ligte laat flikker oor faktore in Suid-Afrika se ekonomiese prestasie wat ’n erg negatiewe uitwerking op ons internasionale mede­dingendheid het,’ sê Jean.

Suid-Afrika se gemiddelde jaarlikse groei in bruto binnelandse produk was net 1,7% oor 10 jaar; om uit dié ‘laegroei-strik’ weg te breek sal die land sy maatskaplik-ekonomiese uitdagings doeltreffender moet oorkom.

Wat die sterkte van die land se oudit- en verslagdoeningstandaarde betref, het Suid-Afrika van die topposisie tot 30ste op die ranglys verswak.

‘Die WEF-verslag dra die boodskap oor dat beleggersvertroue in Suid-Afrika afneem. Dit gaan oor die omgewing waarin besigheid gedoen word, insluitend dié waarin finansiële verslagdoening en oudits plaasvind. Wydverspreide onsekerheid sal noodwendig sakevertroue beïnvloed, soos ons kan sien in die aanwysers van die WEF GCR.’

Positiewe faktore vir Suid-Afrika

Suid-Afrika is ’n groot mark met goeie infrastruktuur en ’n goed ontwikkelde finansiële stelsel.

Suid-Afrika het ’n betreklik gevorderde vermoë om te innoveer, wat die land 46ste plaas, hoewel hy deur onvoldoende navorsing en ontwikkeling beperk word.

In Afrika suid van die Sahara het die Suider-Afrikaanse lande ’n hoër telling vir mededingendheid behaal as Oos- en Wes-Afrika.

Suid-Afrika se finansiële sektor bied taam­lik gebalanseerde toegang tot verskeie bronne van finansies, insluitend krediet (11de posisie), waagkapitaal (63ste), aandele (2de) en versekering (3de).

Negatiewe faktore vir Suid-Afrika

Suid-Afrika is onder die swakste lande ter wêreld wat gesondheid (125ste) en sekuriteit (132ste) betref. Buiten ’n hoë voorkoms van oordraagbare siektes, het die land ook ’n hoë moordsyfer van 34 per 100 mense uit die bevolking (135ste op die ranglys).

Deursigtigheid is in die algemeen die swakste subpilaar – die openbare sektor is die tweede swakste.

Meer as 10% van die totale bevolking leef in armoede.

Lae ingebruikneming van inligtings- en kommunikasietegnologie is nog ’n ernstige beperking op Suid-Afrika se mede­dingendheid (85ste). Net 54% van volwassenes het internettoegang en 30 uit 100 is nie op mobiele breëbanddienste ingeteken nie. 

Eenstop-verslag

Die Sanlam Kliënt- en Markinsig-verslag, ’n omvattende samevatting van nuus oor hoe die ekonomie verbruikers raak, word kwartaalliks deur SPF Kliënte-ervaring saamgestel.