Politieke sekerheid gaan vertroue skep

Posted on January 9th, 2019 |

Beter vooruitsigte word vanaf die tweede kwartaal van 2019 verwag – met positiewe gevolge vir die besigheid.

Die nuwe jaar gaan meer sekerheid in die mark bring sodra die komende algemene verkiesing verby is – wat goeie nuus vir ons bedryf beteken, sê Jaco Coetzee, Uitvoerende Hoof: SPF Distribusie.

‘Ná die verkiesing wat na verwagting in April of Mei gaan plaasvind, gaan ons ontslae wees van die politieke onsekerheid wat tans ’n groot rede is waarom beleggers huiwerig is om hul geld te belê. Ons verwag dus dat enkelpremie-beleggings in die tweede kwartaal ’n opswaai sal begin toon.’

Jaco sê hoewel ons twee uitdagende jare beleef het, het adviseurs en ondersteunende makelaars hul lewenskragtigheid getoon en steeds daarin geslaag om besigheid te doen en kliënte tevrede te hou.

‘Mense se besteebare inkomste is onder druk, so ons verwag nie dat herhalendepremie-besigheid dadelik gaan verbeter nie. Dit sal wel geleidelik begin toeneem namate die politieke sekerheid die vertroue van Jan Publiek positief beïnvloed.’

Dít tel in ons guns

  • Sanlam het genoeg tussengangers – ons mannekragsyfers is die hoogste nóg
  • Ons vaar tans goed teenoor ons mededingers
  • Die feit dat Sanlam goed gevaar het in moeilike tye skep baie vertroue in ons maatskappy en maak dit makliker vir ondersteunende tussengangers om ons produkte by kliënte aan te beveel
  • Onlangse kliënte-opnames toon dat hulle veilig voel om met Sanlam besigheid te doen
  • SPF Distribusie begin die nuwe jaar met ’n nuwe struktuur wat ’n baie meer gefokusde benadering en ondersteuning van tussengangers moontlik maak
  • Sanlam se konsultantdiens word as die beste in die bedryf gereken, aldus die onlangse navorsingsverslag van Standard Bank SBG Securities – ons tussengangers word dus deur die beste mense in die bedryf ondersteun
  • Bemarkingsveldtogte met drie temas – finansiële beplanning, aftrede en begrafnisvoorsiening – gaan bewustheid by kliënte skep en sodoende tussengangers se taak vergemaklik
  • Ons het omvattende en baie mededingende produk­oplossings vir al die marksegmente waarin ons besigheid doen
  • Produkontwikkeling by Glacier hou groot belofte in en detailplanne is gereed om inisiatiewe saam met Glacier van stapel te stuur
  • Verbeteringe aan risikoprodukte kan teen die einde van die eerste kwartaal verwag word
  • Sterk fokus word geplaas op die professionele en gegradueerde mark met spesifieke aksieplanne om besigheid in dié mark te bevorder
  • Sterk fokus word ook op sleutelrekeninge geplaas, met inisiatiewe om besigheid ’n hupstoot te gee
  • Die kwartaallikse Unwrap-leidradeveldtog gene­reer leidrade van tussengangers se bestaande Sanlam-boek deur op verskillende kriteria te fokus
  • Insentiewe vir tussengangers en bestuurders hou aantreklike voordele in vir kwalifiseerders
  • Tussengangers se vermoë om digitale tegnologie optimaal in hul eie besighede en praktyke aan te wend sal meer kostedoeltreffende, winsgewende besigheid teweegbring
  • Sanlam gaan tussengangers ook ondersteun om aanlyn met kliënte besigheid te doen en konsultante toerus om adviseurs en ondersteunende makelaars daarin by te staan
  • Die volgende fase van die aanlyn produk Sanlam Now word binnekort bekend gestel.

Geleidelike omswaai verwag

Hoewel die swak ekonomie en politieke onsekerheid aanvanklik uitdagend gaan wees, glo Jaco omstandighede gaan geleidelik omswaai, met positiewe gevolge vir die besigheid.

‘Die feit dat ons 2017 en 2018 suksesvol kon deursien, maak my optimisties dat ons 2019 met vertroue tegemoet kan gaan. Net soos ’n boer vooraf ploeg en saai en eers die opbrengs sien wanneer dit reën, moet ons tussengangers vooraf seker maak dat hulle by hul kliënte uitkom en solank finansiële beplannings vir hulle doen.

‘Wanneer toestande verbeter, kan ons dan net die oplossings vir hulle in werking laat tree. Dan is die voorbereiding en harde werk reeds gedoen.

‘Ons moenie moed verloor nie. Moeilike tye verg harder werk en as ons bereid is om harder te werk, sál ons sukses behaal.